Nederduits

Nederduits
Plattdüütsch, Nedderdüütsch
Gepraat in: Vlag van Denemarke Denemarke
Vlag van Duitsland Duitsland
Vlag van Nederland Nederland
Totale sprekers: 5 miljoen
Taalfamilie: Indo-Europees
 Germaans
  Wes-Germaans
   Nederduits 
Skrifstelsel: Latynse alfabet
Taalkodes
ISO 639-1: nds
ISO 639-2: nds
ISO 639-3: nds 
Die huidige Nederduitse taalgebied

Die term Nederduits (Duits: Niederdeutsch; Nederduits: Nedderdüütsch of Plattdüütsch), wat in die omgangstaal dikwels ook Platduits (Duits: Plattdeutsch) genoem word, verwys na die dialekte van Noord-Duitsland en Nedersaksiese dialekte in Nederland wat nie die Hoogduitse klankverskuiwing ondergaan het nie en vandag deur sowat 5 miljoen sprekers gepraat word.[1]

Die Nederfrankiese en Nedersaksiese dialekte in Nederland is tot in die 1980's eweneens by die Nederduitse taalgebied gereken; in die moderne taalkunde word Nederfrankies deur die meeste navorsers intussen as 'n aparte taal- en dialekgroep beskou en vanweë die selfstandige taaltradisie van Nederlands nie meer by Nederduits gereken nie. Die dialekte van Noordoos-Nederland word dus as Nederlandse dialekte geklassifiseer, veral met die oog op die groot invloed wat Algemeen Beschaafd Nederlands (ABN) as Nederlandse standaardtaal op hulle uitoefen (net soos Standaardhoogduits op Nederduits).[2]

Die Nederduitse dialekte maak saam met die ander Duitse dialekte en die dialekte van Nederlands deel uit van die kontinuüm van kontinentale Wes-Germaanse dialekte. Nederduits toon daarnaas 'n aantal ooreenkomste met Engels (soos die uitspraak van water) en Fries.

Mennoniete-gemeenskappe in Noord- en Suid-Amerika praat nog steeds Nederduitse dialekte wat as Plautdietsch bekend staan.

Die term "Nederduits" het eers vanaf die vroeë moderne tydperk gebruiklik geword; tydens die Middeleeue is daar na Nederduits steeds as "Saksies" verwys.[3] Vroeër is die term Nederduits dikwels ook in Nederland gebruik om na die Nederlandse taal te verwys (in teenstelling met Hoogduits, die huidige Duitse standaardtaal). Ook historiese Afrikaanse benamings soos Nederduitse Gereformeerde Kerk dateer uit hierdie tydperk en Nederduits is hier net 'n sinoniem vir "Nederlands".

  1. "Webwerf van die Fakulteit Taalwetenskap en Literatuurwetenskap van die Universiteit van Bielefeld (Noordryn-Wesfale, Duitsland)". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2007. Besoek op 25 Julie 2009.
  2. Goossens, Jan: Niederdeutsche Sprache: Versuch einer Definition. In: Niederdeutsch: Sprache und Literatur. Neumünster: Karl Wachholtz 1973, bl. 9-27
  3. König, Werner: dtv-Atlas zur deutschen Sprache. 3. Auflage. München: Deutscher Taschenbuch Verlag 1979, bl. 57

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne